For my Afrikaans speaking readers

Standard

3.Verkeer

 

Teks: Job22:21

       Ef. 4:23

Nêrens ter wêreld kan ‘n perfekte demokrasie gevind word wat absoluut teksboek foutloos verloop nie.  Iets wat baie naby hieraan kom is egter die spitsverkeer op die N1/M1 Johannesburgpad . Hier beleef jy die grootste gelykmaker ter wêreld – almal ontvang dieselfde behandeling.  Dit maak hier nie saak of jy die nuutste borriegeel Hummer of die oudste skietdonk , wat oral aanmekaargelap is met die bekende breë, bruin kleeflint,en waarvan die verfkleur geraai moet word , ry nie.  Almal kom binne ‘n paar sekondes van mekaar by hul eindbestemming aan en beweeg moedeloos teen dieselfde slakkepas.  Die verkeer  is ‘n onvoorspelbare dier wat jou een dag tien minute grasie en ‘n redelike oop pad gun net om die volgende dag jou tyd in een gulsige hap in te sluk en jou motor in te konsertina tussen duisende ander.

 

Soos vermeld het God ‘n geweldige sin vir humor. Ek sukkel reeds geruime tyd om my padwoede onder beheer van die Heilige Gees te plaas, sonder veel sukses.  Wanneer iets op die pad gebeur wat my die harnas injaag, protesteer ek luidkeels (vertaling: ek gil, alhoewel die vensters almal toe is en die betrokke bestuurder my dus glad nie hoor nie) en lê op my toeter of flits my ligte totdat my motor lyk soos ‘n kersboom op steroïedes. Boonop het ek ‘n broertjie dood aan mense wat ongeskik (padvark op sy beste) bestuur sonder om die moeite te doen om dankie te sê as ek vir hul ‘n gaping los.  My ma het my immers groot gemaak met die towerwoorde asseblief en dankie en ek verwag dat ander my met dieselfde respek behandel.  Ek gee immers die gaatjie met ‘n goeie hart ( of so het ek gedink).

 

Soos die noodlot dit dan wil hê, werk dit so  dat my jongste nie sy lisensie betyds kry nie.  Die studentejaar by AFDA begin 7 Februarie reeds en die volgende naaste afspraak kan eers in Maart verkry word.  Terloops, om ‘n afspraak vir ‘n motorlisensie te bekom is soos tande trek- ‘n pynlike proses waarin jy worstel en stoei maar net nooit aan die wenkant staan nie. Of die stelsel is af  of die toue staan by die eerste parkeerplekke verby en jy  moet ‘n piekniekmandjie vir die dag pak,

 

Noodgedwonge moet ek dus elke dag die grootpad aandurf AFDA toe.  Ek sien al klaar hoe glimlag jy, want waar is AFDA geleë?  Natuurlik op die gevreesde, woelige N1/M1 Johannesburg toe.  Waarmee sukkel ek tans?  Nooit geraai nie- padwoede in erge verkeer natuurlik!  Sien jy ook die humor hierin?

 

Vroegoggend trek ons weg.  Boeta is nog moeg en lê rustig op die agterste sitplek en slaap. Daar word selfs ‘n verekussing saamgery om die slapery te vergemaklik. Ma (dis nou ek) moet noodgedwonge  die stuurwiel krampagtig vasgryp en met beklemmende hart die N1 aandurf.  Dit gaan woester as woes en my motortjie begin leer om outomaties oor te skakel tussen eerste en tweede rat (terloops dit is ‘n handrat-model). Ons beweeg teen ‘n slakkepas; selde meer as 40 km per uur en ry ‘n skreiende  uur en ‘n half aan 47km.  Ek lag my ‘n papie vir die snelheidgrens van 120km per uur  met ‘n boete as jy die minimum van 40km per uur nie handhaaf nie.  Dis belaglik dink ek en snork van misnoë!

 

Ek leer egter na die eerste dag of wat om my ongeduld net daar in my sak te steek, want dit help nie en bring jou mooi nêrens nie.  In plaas daarvan om kwaad te word as ‘n taksi voor my indruk of van bane verwissel asof die duiwel op sy agterbuffer sit, leer ek om te konsentreer op dit wat God van my vra in die betrokke situasie (“smile, bless and wave”).

 

Skrywers laat dit altyd so maklik klink- siem salabiem en siedaar’n blinknuwe jy!  Volg net die stappe (gewoonlik sewe) en jy sal ‘n rustiger vredevolle lewe in oorvloed hê.  Ekskuus……?  Hier’s ‘n nuusflits dit is glad nie so maklik nie, dit verg inspanning en konsentrasie!  Dit verg werk van jou, sweet- en swoegwerk.

 

‘n Totale en algehele gedagteverandering is nodig; ‘n wilsbesluit om kalmte en vrede toe te laat om deel van jou lewe te word.  Ja, toe te laat, want op die einde van die dag is dit jy wat die versperrings en keerwalle bou om die proses in die wiele te ry. Ek is van nature ‘n gespanne beheervraat dus was dit vir my ‘n reuse sprong, beide fisies en geestelik.  Aan die anderkant is dit kostebesparend want ek hoef nie elke week kalmeerpilletjies te gaan aanskaf nie of in die ellelange Dischem ry te staan nie.  Boonop lyk ek nie meer soos iemand wat geestesversteurd en met ‘n draakgesig agter my stuur inklim nie. (goedkoop plastiese chirurgie op die koop toe, om van ontrimpeling nie eers te praat nie) . As jy die motoris is wat my so vreemd aangegluur het, weet jy beslis waarvan ek praat.  Het jy al ophou nagmerries kry daaroor?  Ek is regtig jammer  vir die ongerief!

 

In elk geval so ry ek dus twee keer per dag heen en weer en kom wonder bo wonder heel, maar moeg ,anderkant uit.  Ek het nie vergaan nie en my motor het nie ‘n skrapie op nie, nog minder wou ek iemand se nek omdraai .  In die ryery begin ek die mense dophou. Ja, ek weet ,,ek is die grootste “people watcher” van alle tye (in die Oxford Dictionary sal jy my foto naas die term vind).  Ek vind die mens, beide hoe hy lyk en optree, geweldig interessant.  Die kunstenaar in my weet dat daar ‘n storie agter elke gesig skuil.  Hieruit leer ek altyd ongelooflik baie.  Stel dit gerus op die proef as jy weer winkels toe gaan of iewers sit en jou Mocha Java geniet.

 

Ek kom dus agter dat elkeen in sy eie private wêreldjie skuil.  Die motor se bakwerk en vensters word deel van die persoonlike ruimte waar geen vreemdeling geduld word nie.  Bestuurders is afgeslote van die res van die vloeiende stroom mense wat rondom hul beweeg.  Hul bestuur  sonder inagneming van wie voor, langs of agter hul is. Spieëltjies?  Dis ‘n nuwe uitvindsel kan jy raai!  Ons is selfs deesdae tegnologies daartoe in staat om die klimaat binne ons motors te beheer.  Agter ons stuurwiele is ons dus die baas en volkome  in beheer. Ons besluite tel en ons kan daardie besluite letterlik afdwing deur ons optrede. Dus kan ons kies om woedend of onbedagsaam te reageer en wild en wakker van baan te verwissel soos dit ons pas sonder die gebruik  van die uitgestorwe flikkerlig, of ons kan kies om bedagsaam en vriendelik op te tree en alle verkeersreëls te gehoorsaam (“smile, bless and wave”).  Wanneer ek dan vir iemand ryvoorrang gee doen ek dit met liefde of : “Sal jy nou maar voor my indruk en klaarkry! Dink jy miskien jy gaan voor my daar wees of wat? Toe, toe druk nou in, maar maak  net gou!”

 

Ons bestuur met geslote harte, strak gesigte en verwronge harte, want as ek iemand kan bykom wat ‘n fout maak voel ek beter oor myself.  Ons is so gefokus op my “eie-ek-spasie” dat ons nie naastenby agterkom dat ons ons eie troontjie probeer bestyg om vandaar alles te beheer en so die werklikheid deur ‘n waas beleef nie.  My sonbril is getint sodat dit my pas, dankie! Kan ons werklik op die manier spirituele groei toon of word ons emosioneel so afgestomp en word  ons  hele ervaringswêreld na binne omgedop?  Word ek die sku ertjie wat net binne my peul wil bly? As ertjie kan ek immers voeding en gesondheid bring met al my vitamines , maar ek kies om myself eenkant te hou en waag dit nie om opgevreet te word nie.

 

Hierdie geslotenheid word ook deurgetrek na ons verhouding met God.  Ons  lewens word in kompartemente verdeel en ons  besluit waar God toegang mag hê en waar ons eerder die deure agter slot en grendel wil afbaken met ‘n groot “Geen Toegang” bord wat daarvoor hang.  Geestelik kwyn ons, want  ons draai die wêreld en ons medemens die rug toe.  Die besef dat die wêreld in geweldige nood verval dring nie tot ons deur nie.

 

John Donne, ‘n Engelse digter en priester (1572-1631)  het die volgende gesê: “No man is an island entire unto himself”. In 1968 publiseer Ludwig von Bertalanffy “General Systems Theory” waarin hy beweer dat elke individu deel is van die geheel en dat ons nie op ons eie bestaansreg het nie. Alles is inter-afhanklik. Huidiglik is dit UBUNTU wat hierdie selfde idee probeer tuisbring naamlik dat ons slegs bestaan as deel van ‘n gemeenskap .  Die individu maak slegs sin as hy gesien word as lid van ‘n groep. In die natuur vind ons ook hierdie inter-afhanklikheid.  As iets in die eko-sisteem versteur word of uitsterf, beïnvloed dit al die diere en plante binne daardie eko-sisteem. So kan ons ook nie net somer beleef nie al die ander seisoene is van kardinale belang vir die bestaan van die aarde. Selfs Paulus spreek hom hieroor uit as hy ons maan om nie weg te bly van die gemeenskap van mede-gelowiges nie.  Waarom sou jy sê?  Dis uiters noodsaaklik vir die mens om nie afgeslote te leef nie, ons het mense nodig soos wat ons nodig het om asem te haal. Interaksies, wisselwerkinge, emosies en ervarings is noodsaaklik vir groei!

Maak gerus volgende keer wanneer jy in die verkeer vassit, ‘n punt daarvan om in jou truspieëltjie en langs jou te kyk ( nee, nie net oor die berugte K53 nie), maar om jou medebestuurder raak te sien.  Dink na oor hoe sy oggend moontlik kon afgeskop het; stap ‘n myl of twee in sy sandale.  Net dalk dink jy dan anders daaroor as iemand volgende keer vervaard voor jou induiwel en leer jy om liefde en empatie uit te leef.  Net dalk leer jy om te “smile, bless and wave” en nie op jou toeter te lê of ‘n verwensing die eter in te stuur nie. Ek wonder maar net…..want ek het dit geleer.

 

Foto van worldofstock.com

Advertisements

About iread1966

Avid reader, published author, artist and pug breeder. Found out I could actually paint and write late in life, but whoopee now that I have found it I'm not letting go. Join the rollercoaster ride of creativity.

3 responses »

  1. ‘n Lekkerlag storie, maar ek wil jou darem sê, jy wil nie die paaie in Taiwan aandurf nie. Hier kan dit jou soms tot 6 ure neem om 200km af te lê. Gelukkig is die meeste bestuurders darem baie goed opgevoed al bestuur hulle soos besetenes.

  2. wow vanessa – baie dankie hiervoor … dit het nou baie vir my beteken …!! het sommer al die emosies beleef terwyl ek hierdie een post van jou gelees het …

    hou baie van jou afrikaanse skryf ook hoor … 😉

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s